jip-jip vir wilde afrikaanse woordeskat

book

JOHANNA VAN EEDEN

Pretoria

DIE duisterfluisteraars wat Afrikaans se dood voorspel, is van hul breinselle beroof. Dit is die gevolgtrekking waartoe ‘n mens kom ná ‘n gesprek met mev. Joey Basson, die baasbrein agter die Hoërskool Richardsbaai se Wilde Woordeboek. Basson, vakhoof van Afrikaans by dié skool, het in 1993 met ‘n projek begin om kinders aan te moedig om nuwe woorde in Afrikaans te skep. Dié nuutskeppings is in 1997 in ‘n Wilde Woordeboek opgeneem. Die projek het sedertdien gegroei tot ‘n landwye wedstryd waarin oud en jonk nuwe asem in die taal blaas. “Ons het vanjaar 587 nuutskeppings aangeteken en ons is besig om te werk aan ‘n nuwe Wilde Woordeboek. Volgende jaar wil ons twee nuwe afdelings vir die wedstryd skep waarin deelnemers idiome en intensiewe vorme moet uitdink. “Baie van die huidige idiome, soos agteros kom ook in die kraal, het geen betekenis vir vandag se jongmense nie. En wat beteken spierwit en potblou? “Die uitdaging is om nuwerwetse, eietydse nuutskeppings uit te dink,” sê Basson. Baie van die woorde wat in die vorige wedstryde geskep is, word reeds in die algemene spreektaal gebruik.

Een van die woorde wat veral gewild is, is vloermoer. Dit is die Wilde Woordeboek se antwoord op die Engelse “to throw a tantrum”. Onder die nuutste Wilde Woordeboek-werpsel is selfs ‘n Afrikaanse verklaring vir die “raves” waar jong mense hul lywe rondpluk. Van die voorstelle sluit in ‘n raaswals, ‘n zombidans, ‘n maltrap, ‘n kopspin of ‘n hottentotsgoddans. ‘n Oplossing word ook gebied om die Engelse “longdrop” te beskryf. Noem dit liewer ‘n besoek aan die plonsput, die dieptroon, die gemakgat of die plaaspardoems. Wanneer u volgende keer “spare ribs” wil bestel, verras die kelner met ‘n versoek vir evabeentjies, vleiskitaartjies of otgenot. Hoe gemaak met die lekker Engelse woord “stapler” waarmee ‘n mens papiere bind? Probeer draadjiedrukker of papiervampier. Wat van iemand wat ongeskik verklaar word vir werk? Pleks om te sê hy is “geboard”, laat die man liewer sagte plankies kap, sê hy werk by die suikermyn, hy is onklaar verklaar of hy is gerak.

Die Wilde Woordeboek is ‘n goudmyn van lekkersê-woorde wat soms onverwags verras met raakvat-beskrywings. ‘n Wilde Woordeboek-boodskap om iemand se Blou Maandag op te beur (met verklarings in hakies) kan byvoorbeeld só lui:

Is jy in ‘n perdebui (bad mood) omdat iemand besig is om jou handvatsels glad te vat (jou rond te shunt)? Jy is mos nie ‘n sponskind (softy) nie jy met daardie natuurlike noedelhare (spiral perm). Of word jy nou ‘n tannetjie hekel (oulady). Onthou jy nog hoe jy druktyd (sweet sixteen) beleef het? Miskien moet jy maar ‘n ou loslooitjie (affair) aanknoop om jouself op te beur. Nooit gedink my blindederm sal lank genoeg wees (ek sal die guts hê) om dit voor te stel nie, né? Wat van daardie oulike moerjoggie (appy)? Of verkies jy eerder ‘n fundivakie (nerd)? Wie se sjokoladepoppie (sweetie) wil jy wees? Spin jy jou driewiel (gooi ‘n tantrum) omdat jy vanoggend weer besef het jou vriend is ‘n onrehabiliteerbare skouervlieg (back seat driver)? Dit sal my ook ystervarke laat vang (‘n gasket laat blaas) as iemand heeltyd soos ‘n koopsebliefie (rep) sy stembande om my ore rek (nag). Hy het seker maar vanoggend weer ‘n effense bewerlewertjie (hangover) ná gisteraand se gekuier oor die polisiekoffie (halfjackie). Komaan, klim uit die streskas (unwind). As hy weer iets sê oor jou bestuursvernuf en jy trek holrug (kry creeps), sê vir hom hy soek vir gips en steke (watch it)! Gaan huis toe, groet die bure se brommerboel (brandsiek brak) en tooi jouself in jou mooiste saterdrag (informele klere) vir daai mog dit trof (blind date). As dit ‘n petofferige (flashy) ou is wat met ‘n sardyntrein (taxi) voor die deur stop, sê vir hom jy is poegemoeg (lights out) en wil liewer vanaand alleen wees. Slaan ‘n vleismolessie (stew) aanmekaar, haal die jeugdeeg (make-up) van jou gesig af en snik jou sorge weg in ‘n bloplappie (tissue). Hou sommer môre ‘n vakbondvastrap (toi-toi) voor jou werkplek en vra vir ‘n verhoging om te betaal vir die hysbakkies (face lift) waarvan jy droom. Jip-jip? (okay?).

3 Responses to jip-jip vir wilde afrikaanse woordeskat

  1. KarinaKrulkop se Trekjaar sê:

    Watter lekker woorde so vroeg op die Maandagoggend. Viva Afrikaans en sy lekker beskrywende woorde soos die. Lekker – ek kom weer kuier.

  2. Vanessa Curlewis sê:

    Wat van “wolpoppies” vir die muf wat op nat biltong vorm as dit nie genoeg lug kry nie? Of “spookhare” vir die “fluff” stof wat onder beddens en agter meubels vorm as mens lanklaas bietjie die stofsuier gebruik het.?
    Kuite styfmaak – om jou te vereg ” Maak jy jou kuite alweer styf?”

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s