Nostalgie

Nostalgie

Daar’s ‘n park in my tuisdorp ver weg van die stad se lawaai
Waar kinders na skool in die middag kom speel en baljaar
En eendag sien ek my vriend so eenkant alleen
Met modder wat rol oor sy vet wangetjies heen

Ek was so bevoorreg om die volle twaalf jaar van my skoolloopbaan in dieselfde huis te bly. En die huis was ook naby aan ‘n park.  ‘n Park waar ons na skool in die middae kon speel en baljaar. Ons kon, en ons het.  Want toe het ons nog gespeel. Rekenaars was primitief, en winkelsentrums ‘n maandelikse uitstappie. Maar ek wil julle nie eintlik van die park vertel nie. Ook nie van die stad se lawaai nie.  Dis meer die herinneringe van daardie tydperk. En die rigting wat my gedagtes inslaan elke keer as ek aan die park dink. Skool. Skooldae. Die giggels, trane, sprokies, nagmerries, verleenthede en oorwinnings van skooldae.

Ek is seker almal het een of ander storie te vertel van sy dae agter die banke van ‘n kwaai onnie met ‘n groot snor. Wanneer ou vriende ook al bymekaar kom, ou vriende wat saam op skool was, dan wed ek brandewyn en coke dat daar op een of ander stadium ‘n storm van stories vertel word, wat gewoonlik begin met “Onthou jy nog……”.  En later, as die stories uitvertel is, sit almal met ‘n uitdrukking van “aai tog, die goeie ou dae” op hulle gesigte.

Want elke skool het nou maar sy karakters gehad. Mense wat uitgestaan het om die vreemdste redes.  Vaatjie. Sy enkels was amper so rond soos sy wange. Maar sy hart was van goud.  Ek wonder of hy sy droom gevolg het en kok geword het.  Corrie die boelie. Die lae luis. Blykbaar het hy ‘n verkeersbeampte geword, een van die min beroepe waar matriek opsioneel is. Lettie, die meisie met die kort rokkie.  Die enigste manier hoe sy inspeksie deurgekom het, was as sy haar maag en boude gelyk ingetrek en laat sak het. Ek haal my hoed af vir haar. Ek het probeer, en dis nie maklik nie.  Dewald die reus. Sekerlik die grootste seun in die skool en die enigste een met wie Corrie nie moeilikheid gesoek het nie.  Kris, wat met moord weggekom het omdat sy pa so goed vir die skool was. En Bennie natuurlik. Hy het altyd na sweet geruik, maar hy was slimmer as ‘n mens.

En dan ,die meisie sonder naam.  Gereeld het ons voetpaadjies huis toe gekruis. ‘n Man stap maar nadat jou fiets se wiele vir die tweede keer stukkend gesteek is.  Sy het my altyd met ‘n glimlag gegroet, en ek het kop onderstebo gemompel “Hallo”.  Dit het my ‘n jaar en ‘n half se moed opbou gevat voordat ek kon sê “Wat is jou naam?”. Maar daardie dag het nooit gekom nie. Sy het spoorloos verdwyn. Miskien het hulle verhuis? Miskien is sy na ‘n ander skool? Ek wonder, dink sy darem nog aan my?

En tussen al die karakters lê die vriende en die stories. In die klas, na skool, Veldskool.  Pouse agter die pawiljoene. In die skoolsaal plat op die teëls, en die skoolhoof preek oor dissipline, terwyl iemand se maag nie lekker is nie.  Bennie wat gehuil het toe ‘n toets dop. Vaatjie wat gehuil het toe hy deur is.  Daar is twaalf jaar van herinneringe iewers opgesluit. Miskien kan jy niks onthou nie, miskien een of twee staaltjies. Maar al wat jy nodig het is ‘n ou vriend en die woorde “Onthou jy nog….”.  Dan onthou jy vinniger as wat jy kan praat.  Vir ‘n oomblik is jy weer jonk en vry, en more is net nog ‘n dag.

Ek wonder partykeer hoekom vriende na skool uitmekaar spat. Ek meen, daar is gewoonlik goeie intensies, maar soos sigaret rook, verdwyn dit in die lug en die osoon ly daaronder.. Sommige gaan na universiteite en maak nuwe vriende. Sommige trek weg. Sommige hou kontak, maar dinge is nooit weer dieselfde nie.  Vriende kom en vriende gaan. In die woorde van Branch Rickey: “Eers vergeet jy name, dan vergeet jy gesigte, dan vergeet jy om jou gulp toe te rits”

Wat het van al die mense geword?  Party se name het ek vergeet. Party se gesigte raak vaag. Maar soms, en net soms, dan staar mens na iewers in die vêrte en wonder.  Dis ‘n tipe verlange wat jou amper ongemaklik maak. Maar nie heeltemal nie.  Daar’s ‘n bietjie hartseer. Maar net ‘n tikkie.  Meng dit met ‘n glimlag, ‘n knypie verwyt, en roer dit saam met ou vriende.  Jy kry iets waarop jy jou vinger nie heeltemal kan plaas nie. Iets wat jy nie heeltemal kan beskryf nie.  ‘n Mens noem dit Nostalgie.

~ Louw de Twak

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s