Harry Potter en sy Bose Stokkie

November 13, 2007

Harry Potter‘n Paar maande terug het die laaste Harry Potter sy verskyning gemaak. En soos gewoonlik het dit ‘n stormloop veroorsaak en die wêreld het vir ‘n paar dae stilgestaan soos mense soos verslaafdes aan die lees geraak het. Ek wonder of kriminele kan lees? Want ek is seker dit sou ‘n drastiese invloed op misdaad gehad het. Ek wonder….Ek was bietjie stadig. Ek het die ou boekie eers ‘n paar weke gelede aangeskaf en gelees. En toe ek klaar was, het ek so vir interessantheid die internet beklim om uit te vind wat die ander mede-aanhangers te sê het. En tot my skok kom ek toe agter dat ek ‘n vervloekte, bose, okkulte aanhanger is wat so gou as moontlik iemand moet gaan sien om die demone uit my brose en misbruike liggaam uit te dryf. Goeie donder! Daar is so baie anti-Harry artikels dat ek summier my boek in die yskas gaan sit het, en toe onder my bed probeer wegkruip vir wat ook al my gaan tref…..nie regtig nie.

Dit is glad nie my intensie om hierdie mense af te skiet nie. Ek skat daar is twee manier hoe na die probleem te kyk.

Aan die een kant….

Harry Potter praat towery goed. Die helde is towenaars en hekse, wat volgens die Bybel, verkeerd is. Kinders wat nog nie mooi kan onderskei tussen sulke dinge nie, mag dalk net aangetrek word en betrokke raak by die okkulte. Daarom moet jy ook wegbly van die volgende:

  • The wizard of Oz
  • Lord of the Rings
  • Liewe Heksie
  • Eintlik enige fiksie boek waarin daar towenaars is.
  • Enige hygroman waar die leser betower word deur buite-egtelike seks.
  • Superman (saviour of the world)
  • Asterix en Obelix (die “potion” wat hulle drink mag dalk verwar word met dwelms)

Of aan die ander kant….

Dis ‘n blerrie storie! Ek het tot vandag toe nie enige begeerte gehad om betrokke te raak by die okkulte nie, of om koppies met my stokkie (altans ‘n stokkie) te laat sweef nie, en ek lees al van kleintyd af fantasy-fiction. Ek het nie kinders nie, maar ek verstaan mense is bekommerd, veral in vandag se tyd waar daar amper geen sensorskap meer bestaan nie. So as jy dink jou kind gaan beïnvloed word, moenie dat hy die boek lees nie! Maar moenie die boek afskiet nie. Ek sal nie toelaat dat my kinders “Silence of the Lambs” op 10-jarige ouderdom kyk nie, maar dit beteken nie dis ‘n bose fliek nie?

Aan al twee kante….

Wie is reg en wie is verkeerd? Ek weet nie. Die kritici het geldige punte, maar ook ‘n paar stellings wat die dam onder die eend uitruk. Ek weet net dat ek die boek geniet het, en dit my nie dryf tot heksery nie. Dit kan wees dat dit wel die geval is met jong kinders. Maar is die boek die wortel van die probleem? Of is dit dalk die manier hoe jy jou kind grootmaak? Maar wat weet ek nou….

Louw de Twak

Advertisements