Geagte Nedbank

Graag wil ek julle komplimenteer op julle webverf. Dis ’n pragstuk. Alhoewel mens jou gat af sukkel om te kry wat jy wil hê, lyk dit op die oog af indrukwekkend. Ek is ook beindruk met julle vloere in die bank, en al die kameras wat so stylvol saamsmelt met die vreemde maar pragtige dekorasies wat absoluut niks met ’n bank uit te waai het nie. Ek skat julle volg maar net in die ander banke se voetspore. Ek meen, ek is doodseker dat as ek ’n kind sou hê, hy inderdaad aan die giggel sou gaan sodra ek ook ‘n ou rekeningtjie by julle oopmaak, en ek sou ewe skielik ’n passie vir ’n vlieer ontwikkel.

Ek wil graag net een ding van julle weet. Wie het die uitleg van julle hulp toonbanke gedoen? Iemand wat ondervinding in die gebied het? Of is dit iemand wat ‘n kort genoeg rokkie dra sodat die baas onwetend ja gesê het terwyl sy oog op ander plekke konsentreer. Ons het almal ondervinding met die tipe mense. Enige land se skoonheids koningin het innige passievolle drome om Braziele se amper uitgestorwe veg brulpadda te red, maar gooi haar skoene weg as sy per ongeluk in vars hondebollie trap.

Kom ek gee julle ’n wenk of twee. Die feit dat mense gereeld na hulle horlosies staar terwyl hulle in ‘n tou staan, beteken nie dat almal wel af is en elke dag nuwe horlosies koop nie. Dis vir my persoonlik, alhoewel dit dalk vreemd mag klink, nie my alledaagse droom om vir ’n volle uur in ’n tou met 3 mense te staan net om ’n bankkaart af te haal wat ongeveer vyf minute vat nie.

Presies op watter stadium het julle ophou dink? Hoe de moer kan julle toelaat dat die persoon wat graag ’n staat van sy rekening wil hê, of ’n nuwe kaart kom afhaal, in dieselfde tou staan as die spitsneus tannie wat graag 6 rekening wil oopmaak, en elke kaart moet ’n ander kleur wees, met prentjies van Mandela en sy hond Trieks. Niks teen Mandela nie, maar ek dink nie sy hond se naam is Trieks nie. Ek dink nie eers hy het ’n hond nie. Ek is donners bly die persoon wat julle uitleg doen nie betrokke is by die ontwikkeling van garages nie. Al die pompe sal in een ry wees, en niemand sal een wiel vorentoe kan ry voordat die oompie met die stywe broek wat heel voor staan sy splinternuwe trok vol diesel gemaak het nie. Ek meen, dis mos nou net een tou. Want in die nuwe Suid-Afrika is almal een! Ek sidder as ek dink aan ander bedrywe wat dalk julle metodes mag toepas. Wat van Teazers?

Die hartseer van die hele saak is die feit dat ek nog die dae kan onthou toe ek destyds, ‘n snotneus tiener myself, my eerste rekening by julle kom oopmaak het.

Toe het die plek nog gevoel soos ’n bank, en dit was bitter min dat ek vir meer as 15 minute in ’n tou moes staan. Daar was ’n tou vir nuwe rekeninge, ’n tou vir kaarte afhaal, ’n tou vir kakpraat, en sommer nog ‘n tou vir die pret daarvan.

Dit help nie eens om te klae nie, want julle kry seker soveel klagtes dat myne dalk eers in 2010 gelees sal word. En heel waarskynlik bestaan julle nie meer nie…

Louw de Twak

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s