Die Misverstand

Image

Drank is ‘n euwel!   Dit is een van die eerste sinne wat ek geleer het toe ek klein was.  Net so kort koppie agter “kamer toe” en “staan in die hoek”.  Om die waarheid te sê, tot op die ouderdom van ses het ek gedog my volle name is Louw Bly Stil de Twak.

Daar’s ’n kroeg naby my huis waar ek soms ’n biertjie of twee gaan drink na werk  Al die mense daar is vriendelik, behalwe miskien Mal Jan wat altyd met homself in die hoek baklei, en ek bly weg van die tannie met 5kg grimering en ’n linkeroog wat nie meer kan fokus nie.  Sy is blykbaar so los soos ’n Valiant se spaarwiel. Ek het tot ‘n gunsteling stoel waar ek altyd sit en met die kroegman, Mike, gesels.  Die stoel is amper soos hotel 224, baie sentraal geleë, en naby alles. Dis regtig ’n aangename plek, met ’n warm atmosfeer en daar’s net so twee keer ‘n week ‘n bakleiery.

Party Saterdae aande is daar ’n band wat speel.  En dis op een van daardie aande wat ek geleer het dat te veel drank tot ernstige misverstande kan ly.

Die volgende verhaal is gebaseer op ware gebeure.  Waar prakties moontlik is name van mense verander om die betrokke partye te beskerm.  Seks en vloekwoorde is heeltemal verwyder. Geen diere is beseer ten tyde van die gebeure nie.

Daar is ’n ander man met die naam Louw, dieselfde as myne, en ek het al vele kere gedink mense praat van my. Nie-ek-nie-Louw is ’n bouer wat al vir die laaste 10 jaar elke dag sy middagete by die kroeg kom eet.  Een van sy vriende, toevallig ook sy voorman, is die ene Bakkie du Plessis.  Nou Bakkie was ‘n man wat veels te lief was vir die bottel, en was soms maar bietjie onverskillig.  En vroeër daai week het ou Bakkie dinge te ver gevat en dood verongeluk.  Almal het geweet van die tragedie.  Almal, behalwe ek, want ek het my eie mini tragedie vroeër die week gehad.

My vriend het my kar geleen en hom so-effe misgis met die reën en ’n skerp draai. Gebaseer op die ouderdom van die kar en die hoë kilo’s, het die versekering besluit om die kar af te skryf.  Dit was ’n bakkie.

Behalwe daarvoor, het Mike die kroegman ’n niggie wat onlangs Pretoria toe getrek het. Kom ons noem haar sommer net Niggie. Sy bly tydelik by Mike totdat sy haar voete gevind het.  Nou Niggie is blykbaar ‘n baie sensitiewe jong dame met ’n gevaarlike humeur.  Nou wat dit anders as ander meisies maak weet ek ook nie.

Toe ek die Saterdagaand by die kroeg instap, was die plek reeds besig, en hotel 224 reeds geneem. Daar was nog een sitplek oop, reg op die punt van die kroeg, en reg langs Niggie.  Sy was besig op die foon toe ek kom sit, so ek het nie myself voorgestel nie,  maar toe Mike my groet en sê “Naand Louw, ek is nou by jou”, is ek seker sy het so vinnige simpatieke kyk na my kant toe gegooi.  En ek sweer sy het later vir Mike gefluister “Is dit hy?  Mike is nou nie die skerpste pit aan die mieliestronk nie, so hy het net sy skouers opgehaal en gesê: “Net soos jy wil, Niggie, net soos jy wil”.  En so, sonder my wete of toestemming, het ek in Niggie se oë die ander Louw geword.

Ek en Niggie het so bietjie oor koeitjies en kalfies gesels totdat sy skielik uit die bloute uit sê: “Hoor hier, ek wil maar net sê, ek is baie baie jammer om van Bakkie te hoor.”  Nou hoe moes ek weet sy praat van Bakkie du Plessis, en nie my bakkie nie? So ek sê toe maar “Nee maar dankie Niggie. Maar hy was al so bietjie oud en effe swaar op die voggies, so dis seker maar ’n bedekte seën.”  Op hierdie stadium het haar oë so rapsie groter geword, maar ek het dit maar gesien as blote belangstelling.

Sy vra toe: “Ek weet dit het niks met my uit te waai nie, maar hoe het dit gebeur?”.  “Ek weet nie presies nie”, sê ek toe.  “Hy het blykbaar op ’n nat pad gegly en op sy agterstewe geland.  Toe ek daar aankom, was sy neus redelik ingeduik.”    Na ’n paar ongesonde stil oomblikke en met ’n meneer van ’n frons sê sy toe “Maar is daar niks wat jy kon doen nie?  Ek meen, voor die tyd.  Jy het mos geweet dinge gaan agteruit”.

Op daardie stadium was ek al vyf biere sterk, Niggie het soos ’n model begin lyk, en ek was verskriklik in my noppies oor die meisie wat so belangstel in my bakkie. So ek het nie regtig besef wat eintlik aan die gebeur is nie.  Ek sê toe: “Nee maar ek het.  Net verlede jaar.  Ek het hom weggestuur vir ’n hele ruk.  Hulle het daar binne rondgekrap en vervang wat hulle kon.  Toe hy terugkom het dit bietjie beter gegaan, maar dit was nie lank voor sy agterkant weer begin skeeftrek het nie.  “

Niggie het so ’n gevaarlike rooi gloed in haar gesig begin kry, en haar oë was skielik baie groter as gewoonlik.  Maar ek was al ses biere sterk, en Niggie was die mooiste meisie wat ek al ooit gesien het.
Ek kan onthou sy het gesê : “Jy is ’n onsensitiewe vark!  Weet jy dit?  Gaan jy ooit begrafnis hou?”.  Ek kan onthou ek het begin lag en gesê “Begrafnis? Nooit nie!  Weet jy hoe baie geld het ek op hom spandeer? Ek ken mense wat goed sal betaal vir al die parte.  Behalwe miskien vir die uitlaatpyp.  Die is al bietjie oor die muur”.

Die res kan ek nie onthou nie.  Ek het op die grond wakker geword en Niggie was skoonveld.   Selfs Mike het gesê hy het nie geweet sy niggie kan so hard klap nie.  Ek het eers ’n paar dae later van Bakkie du Plessis geleer , en so agter die kap van die byl gekom.

Miskien is drank ’n euwel, miskien nie, maar die band speel Saterdag weer, en as Niggie daar is, drink ek Cream Soda en gesels oor die nuutste Sandra Bullock film.

4 Responses to Die Misverstand

  1. Ek het nou lekker hier gelees. Ek moet weer kom.

  2. groenwyn sê:

    Hehehe! Lekker storie.

  3. klippie sê:

    Lekker geskryf.

  4. Knakkie sê:

    Goeie Louw,
    Ai, dit maak my hart snare warem om te weet dat drank nie net vir my ‘n euwel is nie. Misverstande aan die anderkant maak grootliks my dag op…
    Dankie wel vir die lekker lees. Ek besoek jou web blad so nou en dan en dit is altyd vir my baie lekker om op te vang met al die stories.
    Wel jammer om van bakkie te hoor…

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.